top of page

Is Sy Naam Jesus of "Yeshua"?

Sy Naam is JESUS.
Deur Mila Fourie
18 Okt 2024

Daar is ‘n meningsverskil in sekere kringe oor die Naam van Jesus; sommige beweer dat “Yeshua” die korrekte Naam van die Seun van God is, aangesien "Yeshua" kwansuis die korrekte "transliterasie" uit Hebreeus is. Hierdie is ‘n lewensbelangrike kwessie, aangesien die Naam van Jesus die enigste Naam is waardeur enigeen gered kan word:


“Want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Handelinge 4:12)


Die volgende moet in ag geneem word om uitsluitsel te verkry oor die onderwerp:


~ Die “Yeshua” naam kom letterlik uit twee bronne:‘n enkele Hollywood Film (wat terloops satan as ‘n vrou uitbeeld), en internet artikels. Diegene wat te goed geraak het vir die Naam Jesus, sal ure se videos maak en ellelange opstelle skryf waarin hulle allerhande nuwe "name" vir Jesus "regverdig", met enigste gesag die snert wat hulle op die internet uitgegrawe het. Behalwe vir die feit dat hierdie mense klaarblyklik glo dat alles op die internet die waarheid is (of miskien glo hulle dat alle woorde wat getik is die waarheid is) moet ons oorweeg wat die “Yeshua-beweging" (en elke ander dwaalleer wat 'n ander naam aan Jesus probeer toedig) werklik sê: Oor meer as 2000 jaar was God (op hulle weergawe) magteloos om Sy volgelinge opdrag te gee om Sy “korrekte naam” te gebruik - God het kwansuis in die hemel gesit en in frustrasie toegekyk hoe miljoene der miljoene mense gered word in 'n Naam wat nie aan Hom behoort nie. Volgens hulle, kon Jesus nie deur Sy Heilige Gees die korrekte naam "Yeshua" by Sy kinders tuisbring nie, maak nie saak hoe hard Hy probeer het nie. Dit was die Hollywood Film wat alles reggemaak het; die skouspelagtige produksie van ‘n paar skrywers en akteurs het vermag wat God self nie kon regkry nie. God, volgens hulle, kan nou ontspan want Christene het – na 2000 jaar – uiteindelik die geleentheid gehad om die “ware naam” van Jesus te leer ken as "Yeshua". Dit is duidelik dat die “Yeshua” mensies nie veel gewig heg aan God se vermoë om met sy Kinders te praat nie.


~ Die Nuwe Testament is nie deur ongeletterdes geskryf nie. Lukas was 'n gekwalifiseerde Mediese Dokter en die ander skrywers van die Nuwe Testament kon Grieks lees en skryf, wat die feit illustreer dat hulle goed geletterd was. Toe hierdie skrywers die naam van Jesus as "Iesous" in die oorspronklike Griekse teks geskryf het, het hulle dit neergeskryf met 'n opgevoede begrip van hoe belangrik dit was om akkuraat te wees.


~ Jesus en sy dissipels het nie Hebreeus gepraat nie, so die hele argument dat die Naam Jesus ontstaan ​​het as 'n veronderstelde "verkeerde transliterasie uit Hebreeus" is ongegrond. Jesus en sy dissipels het Aramees gepraat en die bewyse hiervoor is onbetwisbaar, soos bevestig deur hierdie Bybelverse waar die Aramese woorde van Jesus woordeliks aangehaal word:


“talita koem” (Markus 5:41);

“effata” (Markus 7:34);

“eloi eloi lama sabachtani” (Matteus 27:46; Markus 15:34);

“abba” (Markus 14:36).


~ Siries, of Siries Aramees, is 'n hedendaagse taal wat in wese dieselfde Aramees is as wat in die tyd van Jesus gepraat is. In Siries is die naam van Jesus īšōʕ waarvoor die korrekte uitspraak Ishous is. Die laaste letter ʕ is 'n faringeale frikatief wat as 'n sagte S uitgespreek word.


~ Daar is 'n baie soortgelyke Ou-Testamentiese Bybelnaam (vir die wat daarop aandring om uit Hebreeus te "translitereer") wat illustreer dat die Naam Jesus wel redelikerwys in Hebreeus kan bestaan. "Jebus" is 'n ander naam vir Jerusalem, en dit het in die tyd van die Ou Testament bestaan, ​lank voor die snertstorie van "transliterasie" ter sprake kom:


“En Dawid en die hele Israel het na Jerusalem gegaan, dit is Jebus.” (1 Kronieke 11:4)


Al die bogenoemde bevestig dat Jesus die korrekte Naam van die Seun van God is en dat die skrywers van die Nuwe Testament die naam van Jesus in Grieks as Iesous geskryf het omdat dit die korrekte manier was om dit te skryf.


God het nie verander nie; jy kan met groot vrymoedigheid die wonderskone Naam van ons God en Verlosser, JESUS, uitroep in jou gebede en aanbidding. As iemand jou anders probeer oortuig, haal jou Bybel uit as gesag dat Die Seun van God se Naam JESUS is, en lag diep uit jou maag as enigiemand 'n ander naam probeer regverdig met internet storietjies.

bottom of page