
Gaan God die Boere kom red?
Dit hang van jou af.
Deur Mila Fourie
8 Nov 2024
Boere in Suid-Afrika was nog altyd te trots om die Naam van Jesus aan te roep.
Ek het in ’n NG Kerk huis grootgeword. Ek het my eie pa nooit die Naam van Jesus hoor sê toe ek jonk was nie. Dit was “Here” voor en agter, en soms “God”. Maar nooit Jesus nie. Tot my pa werklik tot bekering gekom het. Daarna het hy homself laat doop, by ’n lewende kerk aangesluit, en, tot die dag van sy dood, was my pa ’n uitgesproke dienaar van JESUS, by Name.
Die Bybel is vol geheimenisse, maar dit is ook ’n baie eenvoudige boek; die Ou Testament voorspel dat ’n Redder kom, en die Nuwe Testament getuig dat Hy, JESUS, wel gekom het, net soos dit voorspel is. Jesus was nie “net ’n profeet” nie. As jy glo Hy was net ’n profeet, gooi asb jou Bybel weg en kry vir jou ’n Koran, want jy is nader aan ’n Moslem as ’n Christen (behalwe dat Moslems waarskynlik meer ontsag het vir die Naam van Jesus as die sogenaamde “christen” wat nie glo dat Jesus God is nie). Lees weer Johannes 10: 30 – 33. Jesus het baie definitief Homself as God beskryf; Hy is so verstaan deur diegene wat Hom aangehoor het, en hulle wou Hom stenig daaroor:
“The Jews answered him saying, For a good work we stone thee not, but for blasphemy; and because that thou, being a man, makest thyself God.” (John 10:33)
Ek lees gereeld hoe sommige van ons Volk glo dat, wanneer die onheil ons tref en die verrotte boom van die Suid-Afrikaanse samelewing finaal tot deur die bas vrot en alles inmekaarstort, God een of ander “laer” om die Boere gaan trek en hulle so gaan red. Dream on. Suid-Afrikaners is bereid om Biljoene Rande te betaal vir “get rich quick” skemas, maar skenkings vir die werk van Jesus is nie heeltemal so gewild nie. Jy skree jou longe los by die rugby en gooi jou arms in die lug, maar as jy dit die dag kerk toe maak met ’n hangover, sing jy soos ’n skaam graad een dogtertjie en maak seker dat jy jou arms styf teen jou sye hou (wil nou nie ’n scene maak nie, verstaan jy?).
Die Doringbosregering is al hier, en steeds is ons Boere verdeeld in verskeie klein kampies. Almal wag vir ’n leier, iemand wat deur al die Boere gevolg sal word. My advies is dat jy, terwyl jy wag, nie jou asem ophou nie. Jy sal versmoor.
Jesus nooi jou nie uit om jou knie voor Hom te buig nie. JY SAL. In hierdie lewe, of hierna, wanneer dit te laat is. As jy iemand soek om te volg, volg Jesus. Hy is die enigste Een wat waardig is.
Ja, ek glo dat Jesus ons kan red. Hy alleen.