top of page

Dis Tyd vir 'n Nuwe Justinianus

Keiser Justinianus was 'n volgeling van Jesus.
Deur Mila Fourie
3 Okt 2024

Romeinse Keiser Justinianus is gebore in 482 AD en hy het die eerste deel van sy lewe deurgebring as ‘n arm boer in die Balkan. Hy is in 527 AD verhef tot die hoogste posisie op aarde, naamlik Romeinse Keiser. Hy is verantwoordelik vir die samestelling van die mees belangrike Juridiese Geskrif in die mensdom se geskiedenis, naamlik die “Codex Justinianus”, wat Romeinse Reg gekodifiseer en toeganklik gemaak het vir elke persoon op aarde. Romeinse Reg, vernaam Romeinse Siviele Reg, vorm steeds vandag die basis van alle beskaafde regstelsels.


‘n Belangrike aspek van Justinianus se heerskappy, wat nie so breed bekend is nie, is dat hy baie uitgesproke was oor sy geloof in Jesus Christus. Lees gerus die eerste paragraaf van die Codex Justinianus:


“Ons begeer dat alle volke wat aan Ons goedgunstige Ryk onderworpe is, onder dieselfde godsdiens sal lewe as wat die Goddelike Petrus, die Apostel, aan die Romeine gegee het, en wat die genoemde godsdiens verklaar as deur homself onthul, en wat welbekend is dat die Pous Damasus, en Petrus, Biskop van Alexandrië, 'n man van apostoliese heiligheid, ook as godsdiens omhels het; dit wil sê, in ooreenstemming met die reëls van apostoliese dissipline en die evangeliese leerstelling, moet ons glo dat die Vader, Seun en Heilige Gees 'n enkele Godheid uitmaak, toegerus met gelyke majesteit, en verenig in die Heilige Drie-eenheid.”


Oorweeg verder die Voorwoord van die Codex Justinianus, geskryf deur Justinianus self:    


“In die naam van ons Here Jesus Christus.


Die keiser, Flavius, Justinianus, Alamannicus, Gothicus, Francicus, Germanicus, Anticus, Alanicus, Vandalicus, Africanus, vroom, gelukkige, bekende oorwinnaar, triomfeerder, ewig Augustus, aan die senaat van die stad Konstantinopel.”


Hier is die magtigste man op aarde met genoeg titels om jou duiselig te maak (nie ‘n verspotte staatspresidentjie van een of ander Europese landjie nie) en hy buig hom neer voor Jesus Christus, openlik en bo aan die mees belangrike Jurisdiese dokument van alle tye.


Heersers vandag ag hulself te hoog en belangrik om Jesus te dien en Sy Naam te bely as die Naam bo alle name. Miskien is dit hoekom niemand hulle sal onthou langer as ‘n week na die einde van hul magstydperk nie.


Dis tyd vir ‘n nuwe Justinianus. ‘n Man van God en 'n Leier wat openlik sy geloof in Jesus bely. Met so iemand aan die helm kan ons dalk net Suid-Afrika red voor ons land finaal oor die afgrond verdwyn.

bottom of page