
Die Antichris - is Die Man van Sonde reeds hier?
Die onthulling van die Antichris is naby.
Deur Mila Fourie
26 Sept 2024
Daar is ’n dreigende aantal elemente tans werksaam om die verskyning van die Antichris van Openbaring te versnel:
~ Die Derde Wêreldoorlog, met Amerika en Europa wat reeds op klandestiene wyse “boots on the gound” het in Ukraine, asook wetgewing in plek vir Militêre mobilisasie, skyn reeds goed aan die gang te wees sonder dat die oorgrote meerderheid van die wêreldbevolking dit besef; net soos Siener van Rensburg dit voorspel het:
“Ek sien in Europa 'n vreeslike dik klipmuur en agter die muur sien ek donker rookwolke draai (dit beteken dat die oorlog daar baie ver gevorder sal wees voordat ons dit sal weet). Die sensor is die dik muur. In daardie tyd sien ek ook die Unie is omgeploeg, alles wat nou bo is, is onder of wat baas is, is Klaas.”
~ Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se Agenda 2030 is, op die WEF se eie weergawe, die padkaart tot die “Great Reset ” in 2030; ’n seismiese ekonomiese revolusie wat alle finansiële instellings en kommersiële transaksies soos ons dit tans ken, onherroeplik sal verander. Dit sal gepaard gaan met ’n Digitale ID wat, kortweg opgesom, die Merk van die Dier oftewel 666 sal wees.
~ Vervolging, verbanning, en algemene onderdrukkig van Christenskap neem eksponentieel toe. Dis nie meer moontlik om jou kop te draai sonder om die een of ander idiotiese nuwe “naam van God” êrens te lees nie; enige naam behalwe die Naam van Jesus. Ook word sekere dele van die Bybel nou verban as sou dit offensief wees aan sekere groepe. Dit is geen verrassing nie; Jesus het voorspel dat hierdie dinge sal plaasvind; diegene wat in die Duisternis leef haat die Lig.
~ Die VSA se rol as wêreldleier is verby. Daar is ’n algemene globale minagting vir die VSA en sy huidige beleid, ’n tendens wat aanleiding gee tot, onder andere, die toenemende populariteit van BRICS en finansiële sisteme wat onafhanklik van die Amerikaanse Dollar kan funksioneer.
Al hierdie dinge vloei saam in ‘n rivier van duisternis wat die einde versnel. Jesus het ons gewaarsku dat oorloë en gerugte van oorloë die begin van die Tribulasie is en dat Hy eers terukeer na die aanvang van hierdie Verdrukking (Matteus 24: 29 - 31). Dis onrealisties om vandag nog te glo dat Christene nie deur enige Tribulasie sal gaan nie. Herinner jouself net aan die onlangse doodslag van die “Pandemie” en dis duidelik: Die Tribulasie het reeds begin.
Net soos ons, is daar iemand anders wat tans met groot belangstelling na al hierdie gebeure kyk. Hy is die “Man van Sonde”, die antichris; die een wat kom om die aarde in sy eie persoonlike hel te verander. Hy is bestem om, vir ’n kort wyle, globale mag te hê, en sy amptelike onthulling aan die wêreld as sogenaamde “redder” kan nie meer ver weg wees nie. Hy leef reeds, scroll deur dieselfde “newsfeeds” as jy; trek elke asemteug uit dieselfde atmosfeer as wat ons inasem.
Onthou, ongeag die identiteit en presiese oomblik van die antichris se verskyning, is nie een van ons die dag van môre gewaarborg nie. Bid elke dag. Lees die Woorde van Jesus in die Bybel so gereeld as wat jy kan, en maak seker dat jou verhouding met Hom reg is. As jy nog nie Jesus Christus as jou persoonlike Redder aanvaar het nie, lees Johannes 3:16 in die Bybel en word vandag nog gered van jou sonde. As jy versuim om Jesus te dien, sal jy die Man van Sonde dien. Dis die enigste twee keuses.
Ten slotte, en ten spyte van alles wat kom, wees nie bevrees nie; onthou altyd Jesus se Belofte aan ons: “Niemand sal jou uit my Hand uit ruk nie.” (Johannes 10:29)



